Zille verwelkom Madonsela se besluit
2012-06-01 17:18
Kaapstad – Die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, het Vrydag die openbare beskermer se beslissing dat haar regering se besluit om ‘n kontrak aan die advertensiemaatskappy TBWA toe te staan, nie onwettig was nie, verwelkom.
"Die verslag toon, bowenal, dat die hele voorval opgeblaas is en aangehits is deur ons politieke opponente,” het sy aan verslaggewers in Kaapstad gesê.
“Die hele gedoente was ‘n mors van die openbare beskermer se tyd en kos die Suid-Afrikaanse belastingbetaler honderde duisende rande, wat beter bestee kon word op dienslewering.”
Die openbare beskermer, Thuli Madonsela, het Vrydag aangekondig dat sy vier bevindinge van wanadministrasie gemaak het, maar niks van onwettigheid nie, wat beteken sy sal nie voorstel dat die kontrak ongeldig was of gekanselleer moet word nie.
Zille sê die verslag het geen korrupsie of politieke betrokkenheid, inmenging of manipulasie in die verkrygingsproses gevind nie. Sy was ook nie persoonlik betrokke by die proses nie.
– Volg Nuus24 op Twitter