Zille toegejuig in Soweto
2011-03-28 09:13
Johannesburg - Net ’n week nadat Patricia de Lille op die Menseregtedagviering in Kaapstad tydens haar toespraak deur ANC-ondersteuners uitgejou is, is sy, die DA-leier, Helen Zille, en ander DA-swaargewigte deur sowat 3 000 mense in die ANC-hartland van Kliptown, Soweto, met ope arms ontvang.
Wit en swart het Zille en De Lille ewe hard by die Walter Sisulu-vryheidsplein toegejuig en daar was geen teken, soos by verkiesingsveldtogte in ander gebiede van Gauteng en elders, van ANC-ondersteuners wat wou inmeng of amok maak nie.
“Dit is nie ’n verkiesing tussen rassegroepe nie,” het Zille gesê.
“Wanneer die DA sê ons lewer (dienste) vir almal, bedoel ons regtig almal. Vir die armes én dié wat welaf is. Vir swart, bruin, Indiër en wit. Vir werkers en entrepreneurs, diegene sonder werk, mense met gestremdhede. Vir mense van alle godsdienste. Kom ons breek met dié verkiesing die versperrings tussen Suid-Afrikaners af.”
Volgens Zille is dit vir die DA ’n prioriteit om armoede uit te wis. Dié party se verkiesingsmanifes fokus onder meer op ekonomiese ontwikkeling, korrupsie- en misdaadbestryding, gesondheid en basiese dienslewering in munisipaliteite.
Zille het dienslewering-suksesverhale soos die DA-beheerde Midvaal-munisipaliteit, wat deur verskeie instansies bekroon is as Gauteng se bes bestuurde munisipaliteit, en Kaapstad as voorbeelde voorgehou waarom kiesers haar party ’n kans op verandering moet gee.
De Lille het gesê die doel van die apartheidstryd was nie sodat “net ’n paar daarby kan baat vind nie, maar sodat alle Suid-Afrikaners die vrugte hiervan kan proe”.
Suid-Afrika is by ’n kruispad, waar die ANC se “korrupsie, poste vir vriende en gulsige elite” die visie van ’n oop en verbeterde samelewing ondermyn.
“’n Stem vir die ANC is ’n stem vir swaarkry. Moenie ’n party kies wat diensleweringgeld steel nie,” het sy gesê. “Gee ons ’n kans en kyk wat gebeur. Julle het niks om te verloor nie.”
Sy het Johannesburg uitgesonder as ’n voorbeeld van swak dienslewering.
“Johannesburg gaan van krisis tot krisis met die grootste skuld in die land. Sy mense betaal vir die ANC se foute. Ek het telling van al die slaggate verloor toe ek hierdeur gery het.”
Mmusi Maimane, DA-burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, het gesê Johannesburgers verdien beter.
“Ek het in Soweto grootgeword. Ek’s lief vir hierdie stad en sy mense.”
Hy het mense aangemoedig om soos in Noord-Afrika verandering teweeg te bring.
“Daardie soort verandering is hier ook moontlik.
“Kom ons gebruik elke Facebook-blad, elke Twitter-brok, elke taxi, straathoek en huis – in Johannesburg én in Suid-Afrika – om verandering teweeg te bring,” het Maimane gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger