Zille steun petisie teen 'blou ligte'
2011-11-16 08:05
Kaapstad – Helen Zille, DA-leier, gaan haar gewig ingooi agter ’n petisie om politici se “bloulig”-konvooie te verbied.
Zille het Dinsdag gesê sy gaan een van meer as 6 500 Suid-Afrikaners wees wat die petisie onderteken.
Sy het in Maart verlede jaar ’n dringende vergadering met pres. Jacob Zuma versoek oor die “misbruik” van magte deur die “bloulig-boelies” op die land se paaie.
Dit was nadat Tshepo Lesole, ’n joernalis, en Chumani Maxwele, ’n Kaapse student, in afsonderlike voorvalle deur die presidensiële veiligheidseenheid aangerand is.
Zuma het nooit ingestem tot die vergadering nie.
“Die bloulig-boelies het sedertdien volgehou met hul gevaarlike verontagsaming van die reg, met die jongste voorval ’n botsing, waarna die Gautengse skoolseun Thomas Ferreira steeds in ’n kritieke toestand is.”
Zille het ná Ferreira se ongeluk weer aan Zuma geskryf en gevra vir dringende ingryping om die wetteloosheid te stop en kabinetslede te dwing om die wet te gehoorsaam. Hierop het sy nog nie ’n antwoord ontvang nie.
Zille het gesê die Wes-Kaapse regering het reeds stappe gedoen om die gebruik van blou ligte deur alle staatsamptenare te verbied. Dit sluit in nasionale ministers wat die provinsie besoek.
Volgens haar sal dié soort gedrag net in noodgevalle aanvaarbaar wees.
“Nasionale ministers moet ophou skuil agter verskonings van dringende vergaderings of vlugte wat verpas word. Hulle moet begin om die veiligheid van ander padgebruikers te respekteer.
“Pres. Zuma moet kennis neem van die gevoelens van gewone Suid-Afrikaners oor dié misbruik van mag en moet nou optree om dit te stop voordat nog mense seerkry,” het sy gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad