Zille soek debat oor mediese sorg
2009-08-21 16:25
Kaapstad – Die tyd is ryp vir ‘n publieke debat rondom die regte en verantwoordelikhede van mense wat afhanklik is van die staat vir mediese sorg, het Helen Zille Vrydag gesê.
“Daar is ‘n algemene siening dat mense die reg het om op te tree nes hulle wil en dat die staat dan vir die nagevolge moet betaal,” het sy in haar weeklikse nuusbrief op die DA se webblad gesê.
Omtrent 80% van die staat se gesondheidsbegroting word op die nagevolge van persoonlike “lewenstylkeuses” gespandeer, meen sy.
Sulke keuses strek van onbeskermde seks, tot dwelm- en alkoholmisbruik, asook trauma en geweld wat daarmee gepaard gaan.
Veels te min word uitgegee op mense wat geen keuse in hul mediese toestand het nie.
“Wanneer individue persoonlike keuses met diepgaande nagevolge vir die publiek maak, is dit ‘n onderwerp vir publieke debat. Veral as ander mense as gevolg daarvan ingedoen word,” het Zille gesê.
Sy het die voorbeeld genoem van ‘n gesonde man, "heeltemal bewus van die nagevolge van onbeskermde seks met klomp verskillende maats.
"Hy word positief getoets vir MIV/vigs, en vra dat die regering vir hom van medikasie verskaf.
"Is dit die regering se verantwoordelikheid?" wou sy weet.
- Sapa