Zille probeer glo demokrasie in DA ondermyn
2011-06-19 07:05
Kaapstad – Die wedloop om die leierskap van die DA se parlementêre koukus het die afgelope week ’n onverwagse wending geneem met Helen Zille, DA-leier, wat in ’n smeerveldtog geteiken word.
Binne dae nadat ’n sterk bewoorde e-pos uitgelek het wat Athol Trollip, leier van die amptelike opposisie in die Nasionale Vergadering, gestuur het aan Annette Steyn, DA-LP van Venterstad, word gebeure in die DA-koukus nou in sekere kringe aangebied asof Trollip die slagoffer is van ’n sameswering waarin Zille sentraal staan.
Kragtens die DA se parlementêre reëls moet ’n leiersverkiesing twee en ’n half jaar in die koukus-leierskorps se termyn in gehou word – dus in Oktober vanjaar.
Alle aanduidings is dat Trollip teengestaan gaan word, maar die veldtogte het nog nie juis begin nie.
Die name van Lindiwe Mazibuko en dr. Wilmot James word wel tans onder meer genoem as moontlike kandidate en hulle word ook in die huidige bewerings geteiken.
Daar is lede in die DA en klaarblyklik dalk selfs in die parlementêre koukus wat tans beweer Zille het me. Patricia de Lille op partylede afgedwing as Kaapstadse burgemeester, hoewel De Lille korrek verkies is deur die tersaaklike kieskollege in Kaapstad.
Voorts word beweer Zille het aan die parlementêre koukus gesê Trollip moet terugstaan ten gunste van Mazibuko. Dit word ten sterkste ontken deur alle koukuslede met wie Rapport gepraat het.
Ook word beweer Zille probeer ’n Wes-Kaapse verteenwoordiger op die koukus afdwing as leier en word uitgewys dat Trollip darem van die Oos-Kaap is. So word die provinsialistiese kaart spesifiek op James (wat Mitchells Plain verteenwoordig) getrek: die bewering is dat hy (en Mazibuko, wat eintlik ’n Durbanse kiesafdeling verteenwoordig) deel van “Zille se Kaapse kliek” is.
Zille se teenstanders voer aan sy probeer om die DA se demokratiese en federale aard te ondermyn en dat sy alle mag in die Kaap wil sentreer.
Zille het haar Saterdag van kommentaar op die bewerings weerhou, behalwe om uit te wys gebeure in die koukus is vertroulik.
Daar is tans geen bewys dat Trollip enigiets met die bewerings te doen het nie. Verskeie pogings om hom gister vir kommentaar op te spoor was onsuksesvol.
* Trollip was juis die afgelope week op ’n ligter trant in die nuus oor hy, in sy e-pos aan Steyn, na die belastingweerhouder Jaap Kelder as ’n idioot verwys het en stellings gemaak het wat die VF+ gekrenk het.
Kelder steek sy ontevredenheid met die DA se onwilligheid om belastingweerhouding te steun (omdat weerhouding van belasting onwettig is en die weerhouer dus volgens die DA aan vervolging blootgestel word) nie weg in sy skrywes nie.
Dit lyk nie of enigeen in die DA erge probleme ondervind met Trollip se teenstand teen die VF+ of Kelder nie en die kwessie kan gou oorwaai.
Trollip het sedertdien wel gesê sy taalgebruik was te sterk en het verskoning gevra.
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport