Zille onttrek aan duur sake-ontbyte
2013-01-21 17:50
Johannesburg – Die DA-leier Helen Zille het Maandag onttrek van 'n New Age-sakeontbyt ná berigte dat die geleentheid met die publiek se geld befonds is.
"Ek en ander senior DA-kollegas was voorheen sprekers by die New Age-sakeontbyte, op die aanname dat die koerant en lede van die publiek wat kaartjies koop om die geleentheid by te woon, dit befonds," het Zille in 'n verklaring gesê.
"Noudat dit aan die lig gekom het dat die ontbyte, wat miljoene rande beloop, deur maatskappye in staatsbesit met die publiek se geld betaal word, kan die DA nie meer deel wees daarvan nie."
City Press het Sondag berig drie van die land se grootste maatskappye in staatsbesit dok miljoene rande op om sake-ontbyte van die Gupta-familie, boesemvriende van pres. Jacob Zuma, te finansier.
Die Guptas is die eienaars van die koerant The New Age, wat by sy reeks sake-ontbyte al gasheer was vir sprekers soos Zuma, Jeff Radebe, minister van justisie, en Malusi Gigaba, minister van openbare ondernemings.
Transnet het al R17,5 miljoen vir 18 ontbytsessies opgedok, Eskom het tussen November en einde verlede jaar R7,2 miljoen betaal om ses sessies (teen R1,2 miljoen elk) te borg; en die SABC het die koerant nie ’n sent gevra om hul ontbyte regstreeks op SABC2 uit te saai nie.
Zille het gesê sy het Maandagoggend 'n brief aan Moegsien Williams, redakteur van The New Age, geskryf en hom in kennis gestel van haar besluit.
"Die ontbyte moet baie winsgewend wees vir die New Age, wat besit word deur die Gupta-familie, wat op hul beurt ondersteuners en befondsers van die ANC en pres. Jacob Zuma is."
"Dit is nie aanvaarbaar of verskoonbaar dat publieke geld gebruik word om 'n koerant in privaatbesit en indirek die koffers van die ANC te bevoordeel nie."
Dit is spesifiek waar vir Eskom, wat die publiek vra om meer te betaal vir elektrisiteit.
Nazeem Howa, The New Age se hoof- uitvoerende beampte, het in Maandag se uitgawe van sy koerant reageer op die berig in City Press.
"Ons weet die aanvalle op ons sal toeneem soos ons impak in die mark groei."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA