Zille moet verloofring koop, sê De Lille
2010-07-26 06:19
Philda Essop en Anesca Smith
Kaapstad. - Sy is nié soos Marthinus van Schalkwyk wat “alleen van ’n sinkende skip gespring” en die res van sy partylede agtergelaat het nie.
Dié woorde van Patricia de Lille, OD-leier, het gister in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) luide applous van die sowat 1 200 DA-kongresgangers uitgelok.
De Lille, genooide spreker by die kongres, het gesê sommige mense het haar die afgelope paar weke met Van Schalkwyk vergelyk.
“Daar is egter hoegenaamd geen ooreenstemming nie.”
Uit haar gesprekke met OD-takke landwyd die afgelope paar weke was dit duidelik daar is “oorweldigende steun” vir die party om met ander opposisiepartye saam te werk.
“Anders as Kortbroek, wat alleen van die sinkende skip (NNP) gespring het en sy partylede agtergelaat het, sal die ODleierskorps en sy lede in dieselfde rigting beweeg.”
Die kortstondige samewerking tussen die NNP en die DP, waaruit die DA gebore is, het op 26 Oktober 2001 finaal tot ’n einde gekom. ’n Mosie is daarna deur die NNP aanvaar vir toekomstige samewerking met die ANC.
Toenadering tussen die DA en OD was gister openlik sigbaar.
“Ons is besig om te vry...ek weet nie wie die verloofring gaan koop nie. Ek dink Helen kan bekostig om die verloofring te koop!” het De Lille onder luide aanmoediging uit die gehoor gesê.
Helen Zille, DA-leier, is gister onbestrede herkies as partyleier.
Zille het gesê sy en De Lille was eens fel opponente, maar het mekaar die afgelope paar weke gereeld ontmoet.
“Ons het baie sakke sout saam opgeët en vriende geword.”
De Lille het in Maart ’n beraad van opposisiepartye gereël met die doel om ’n opposisiefront bestaande uit verskillende partye te vorm ter voorbereiding van aanstaande jaar se plaaslike regeringsverkiesings.
“Die visie wat ons het, is ’n sterk entiteit – ’n front wat sterker is as die som van alle opposisiepartye wat die regering by die stembus verantwoordbaar sal hou.”
Tyd is volgens De Lille egter nie aan die kant van opposisiepartye nie omdat die sperdatum vir partye om hieroor te besluit 20 September is.
Zille het Saterdag gesê die DA vaar goed – veral met sy oorwinning van 11 wyke in tussenverkiesings die afgelope tyd.
Die party moet egter sy steun op ’n ander manier uitbrei – deur middel van die herskikking van die Suid-Afrikaanse politiek.
Ofskoon koalisies “breekbaar en kompleks” is om te beheer, bly sy daarvan oortuig dat koalisies ’n belangrike stap in die herskikkingsproses is.
“Daar is mense wat ons waardes deel in alle politieke partye. As ons daarin slaag om al dié mense byeen te bring in een politieke voertuig, glo ek sal ons die meerderheid kan vorm. Ons moet dié nuwe meederheidsparty bou.”
- Die Burger