Zille moet verduidelik oor bouprojekte, sê Cosatu
2013-02-04 15:03
Kaapstad – Cosatu in die Wes-Kaap het gevra dat 'n ondersoek na premier Helen Zille en die DA van stapel gestuur word ná berigte dat die koste van bouprojekte in Kaapstad moontlik kunsmatig opgestoot is weens samespanning tussen konstruksiemaatskappye.
"Cosatu doen 'n beroep op die Mededingingskommissie, die openbare beskermer en die Openbare Dienstekommissie om Helen Zille en die konstruksie van die BRT-busstelsel se roetes in Kaapstad te ondersoek, bo en behalwe die stadion, weens voortdurende bewerings van korrupsie en samespanning," het die vakverbond se leier in die Wes-Kaap, Tony Ehrenreich, gesê.
Zille en die DA moet ingesluit word omdat sy die premier was toe dié kontrakte toegeken is, het die vakverbond aangevoer.
Cape Argus het vroeër berig dat die Valke bewerings ondersoek dat die Stad Kaapstad te veel betaal het vir die Kaapstad-stadion weens samespanning deur konstruksiemaatskappye.
Die Mededingingskommissie sal glo 'n openbare verhoor hou om die bewerings te ondersoek.
Dié tweeledige ondersoek volg ná die kommissie se aankondiging in 2011 dat die kontrak vir die Kaapstad-stadion een van vele is wat ondersoek word weens beweerde tenderonreëlmatighede.
Die kommissie het destyds gesê hy ondersoek 65 sake wat betrekking het op 70 projekte ter waarde van sowat R29 miljard.
Die stadion se aanvanklike prys was R2,9 miljard, maar het uiteindelik meer as R4,3 miljard gekos.
Kylie Hatton, woordvoerder vir die Stad Kaapstad, het gesê die munisipaliteit kan regsaksie neem om dié ekstra koste te verhaal.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA