Zille 'moet tweede salaris prysgee'
2011-07-27 09:00
Kaapstad – Cosatu het die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, Dinsdag uitgedaag om haar “tweede salaris” wat sy as DA-leier ontvang, aan ’n edele saak te skenk.
Tony Ehrenreich, provinsiale sekretaris van Cosatu, het Dinsdag in ’n verklaring gesê hy het sý tweede inkomste as raadslid aan die liefdadigheidsorganisasies Working Partnership en Trots Suid-Afrikaans geskenk.
Zille het egter by monde van haar woordvoerder, Priya Reddy, ontken dat sy ’n tweede salaris trek. “Die premier ontvang nie ’n tweede salaris nie. Die geld wat sy van die DA ontvang, word gebruik om uitgawes soos lewensversekering, reis- en ander koste te dek wat met haar werk as DA-leier verband hou.”
Ehrenreich het gevra dat die premier teen einde Julie in ’n brief moet bevestig dat haar “tweede salaris” gestaak is, anders gaan hy die kwessie by die openbare beskermer aanmeld.
“As Cosatu onderneem ons om alle onbehoorlike optrede bloot te lê en by die owerhede aan te meld. Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, behoort ondersoek te word om vas te stel of daar enige onbehoorlikheid was, maar so ook premier Zille,” het hy in ’n verklaring gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger