Zille verkla dalk ANC-jeugliga
2010-06-28 09:56
Kaapstad - Die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, het bevestig dat sy dalk 'n klag van naamskending kan indien teen lede van die ANC-Jeugliga in Khayelitsha wat haar vroeër die week beledig het, het die radiostasie RSG op sy webwerf berig.
Zille was in die gebied om met die Minister van Samewerkende Regering, Sicelo Shiceka, oor die probleme met oop toilette in Makhaza te praat.
Lede van die Liga het vroeër sinkplate afgeruk wat die toilette bedek het.
Zille het intussen gesê sy is jammer vir die miljoene Suid-Afrikaners wat volgens haar bang is om hulle menings te lug. Zille het in haar weeklikse aanlyn-nuusbrief gesê die Wêreldbekertoernooi het aan Suid-Afrikaners 'n kykie gegee van wat die land as nasie kan wees.
Maar sy sê daar is 'n ander Suid-Afrika buite die bereik van die ondersteunersparke en stadions in die greep van 'n outoritêre gesag. Zille sê baie Suid-Afrikaners vrees om hulle eie besluite te neem, of 'n mening uit te spreek, indien dit in teenstelling is met die kollektiewe standpunt.
- Vir die volledige storie besoek RSG.
- Volg Nuus24 op Twitter.