Zille kap minister van arbeid oor staking
2013-01-11 16:47
Johannesburg – Mildred Oliphant, die minister van arbeid, moet optree om die gewelddadige stakings in die Wes-Kaap so gou as moontlik te beëindig, het die provinsiale regering Vrydag gesê.
"Haar oorverdowende stilte moet teen die agtergrond van hierdie krisis uitgedaag word," het Helen Zille, die Wes-Kaapse premier, en Gerrit van Rensburg, provinsiale LUR vir landbou, in 'n gesamentlike verklaring gesê.
Hulle het gesê Oliphant moenie "wegkruip" agter versoeke dat amptelike prosesse gevolg moet word nie.
"Dis die minister van arbeid se werk om die eerste stap te neem in die ontlonting van die situasie deur sigbare en proaktiewe kommunikasie."
'n Staking deur plaaswerkers, wat daarop aandring dat hulle lone van R69 per dag na R150 per dag verhoog word, is in Desember afgelas, maar is Woensdag hervat.
Gewelddadige botsings het Woensdag en Donderdag tussen stakers en die polisie plaasgevind.
Zille en Van Rensburg het gesê Oliphant moet al die rolspelers byeenroep vir gesprekke voor die oesseisoen daaronder ly.
"Versuim om dit te doen kan baie ernstige gevolge inhou, nie net vir die Wes-Kaap nie, maar ook vir Suid-Afrika in geheel."
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA