Zille in spervuur oor radiodekking
2010-09-09 07:45
Kaapstad - Die provinsiale regering en die stad Kaapstad betaal vir die volgende drie jaar nagenoeg R1 miljoen elk vir ’n radioprogram oor dienslewering.
Dít het bekend geword nadat Helen Zille, Wes-Kaapse premier, vandeesweek tydens die sitting van die provinsiale parlement erken het sy het belastingbetalersgeld gebruik om te betaal vir so ’n radioprogram waarop sy met Wes-Kapenaars gesels het.
Die DA het onlangs reeds alarm gemaak oor ’n aanbod van die SAUK vir betaalde dekking van dié party in die Wes-Kaap –iets wat die party nou meen niks te doen het met dié program oor dienslewering nie.
Max Ozinsky, ANC-LPP, het die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, Dinsdag tydens die provinsiale parlement se weeklikse sitting gevra of sy enige geld betaal het vir onderhoude in die media en op radiostasies.
Zille het hierop erken toe sy burgemeester van Stad Kaapstad was, het sy deelgeneem aan ’n program op ’n radiostasie waartydens inwoners kon inbel met probleme oor dienslewering.
Die program is voortgesit nadat Zille premier geword het.
Sy het gesê dié kontrak was oop vir tenders.
Die kontrak is geldig vir drie jaar en het in April vanjaar begin, het Nick Clelland-Stokes, woordvoerder, gister gesê.
Volgens hom deel die stad en provinsie die rekening van net meer as R2 miljoen gelykop.
“Ek is geskok om dié antwoord te hoor,” het Ozinsky gesê en haar gevra of sy dit duidelik gemaak het sy is besig met ’n betaalde program en nie ’n nuusprogram nie.
“Die inhoud was in geheel nie polities nie,” het Zille geantwoord.
“Dit was ’n oop tenderproses en verskeie tenders van verskillende radiostasies is oorweeg. Dit was uit die staanspoor oop.”
Volgens Zille was die program bloot ’n voertuig vir openbare deelname.
Sy het benadruk dat sy dié punt duidelik gemaak het elke keer as politieke kwessies geopper is.
Zille het toe haarself – tot groot ontsteltenis van Lynne Brown, voormalige ANC-premier – verder verdedig deur te sê Brown het dit óók gedoen.
’n Duidelik omgekrapte Brown het opgestaan en ontken dat sy ooit betaal het vir die program waarop sy as premier met inwoners geskakel het.
Die ANC het intussen ’n debat aangevra oor die gebruik van belastingbetalersgeld vir dié doeleindes onder die DA-administrasie.
Dié sensitiewe kwessie volg ook op bewerings dat Brown se voorganger, Ebrahim Rasool, glo sekere Cape Argus-joernaliste omgekoop het in ruil vir positiewe dekking.
- Die Burger