Zille gee duidelikheid oor 'Gupta-skenking'
2013-01-29 14:52
Kaapstad – Helen Zille, leier van die DA, het Dinsdag breedvoerig verduidelik hoe 'n skenker met bande met die Gupta-familie die DA in 'n stadium geldelik ondersteun het, en gesê haar party het nooit "enige gunste" vir hom gedoen nie.
Die Weekend Argus het vroeër berig dat Zille befondsing van die Gupta-familie ontvang het. Onbekende bronne het aan die koerant gesê Zille het in 2011 na dié familie se huis in Saxonwold, Johannesburg, gegaan om vir 'n skenking te vra.
Volgens die koerant het Zille glo die familie se huis met 'n paar duisend rand verlaat.
Zille het Dinsdag in 'n verklaring bevestig dat sy wel by die Gupta-familie se woning was om 'n skenking te ontvang, maar het volgehou dat die skenker nie 'n lid van dié familie was nie.
"Met respek, hierdie argument maak nie sin nie. Daar is absoluut niks fout daarmee as die Guptas geld gee aan enige politieke party wat hulle wil nie – solank hulle nie... gunste ontvang van die regering, wat belastingbetalers se geld gebruik nie," het Zille in 'n verklaring gesê.
"Die meeste joernaliste verstaan net nie. Hulle hou aan vra of ons geld ontvang het van die Guptas. Ek bly antwoord: Vra húlle. As hulle die vraag wil antwoord, is hulle vry om dit te doen.
"Ek kan dit nie doen nie, want die DA verbind hom tot vertroulikheid vir al ons skenkers," het sy luidens die verklaring gesê.
Zille het gesê die jongste rits mediaberigte het haar egter genoop om dié skenker te vra om sy identiteit bekend te maak. Hy het geweier.
"Hy het gesê hy soek nie sy naam in die koerante nie. Hy is nie 'n Gupta nie. Hy is 'n sakeman in 'n maatskappy wat deur die Guptas besit word. Ek het onderneem om nie sy naam te noem nie, maar ek het gesê, gegewe die wilde en ongegronde bespiegeling – wat vermom word as feite – moet ek die saak regstel."
Zille het verduidelik dat Chris Hattingh, provinsiale leier van die DA in die Noordwes, die DA se fondsinsamelingskantoor voor die verkiesing in 2009 gekontak het om te sê 'n ou kennis van hom wil 'n donasie aan die DA se verkiesingsveldtog maak.
Die fondsinsamelingspersoneel het vir haar 'n afspraak gemaak om met hom te praat. Die skenker het by dié ontmoeting belowe om 'n donasie van R200 000 te maak.
"Die skenker het daarna voorgestel dat ek die tjek by die Guptas se huis in Saxonwold gaan haal, en ons het uitgevind hy is 'n senior beampte in een van die Guptas se maatskappye," het Zille gesê.
"Ek en my kollega Ian Davidson het na die Guptas se huis gegaan, van die lekkerste kos geëet wat ek nog ooit geëet het, en die tjek vir R200 000 ontvang van die individu wat die belofte gemaak het. Dit was 'n persoonlike tjek uit sy persoonlike bankrekening. Dit het nie van 'n Gupta-maatskappy, of van die Guptas gekom nie, maar dit is by hulle huis oorhandig."
Zille het verduidelik dat dieselfde sakeman later weer R100 000 aan die DA geskenk het, weereens in sy persoonlike hoedanigheid. Hy het ook in 2010 besluit om geld aan die party te skenk.
"Die fondsinsamelingsdepartement het in 2010 'n jaarlikse fondsinsamelingsvergadering tussen my en dieselfde sakeman gereël, waar hy nog R100 000 beloof het. Ons het dié bedrag per tjek ontvang, maar hierdie keer was die tjek in die naam van 'n maatskappy waarvan die sakeman 'n senior beampte was. Dié maatskappy word gedeeltelik of geheel besit deur die Guptas, maar dis nie een van hulle bekende handelsmerke, soos Sahara Computers of The New Age nie."
Chris Hattingh het Zille luidens die verklaring in 2011 ook genader oor 'n skenking deur dieselfde sakeman, maar teen dié tyd het nuusstories begin verskyn wat die Guptas se skenkings aan die ANC verbind het met magsmisbruik.
"Al wou die skenker die donasie in sy persoonlike kapasiteit maak, het ek nie gedink dis wys om die verhouding verder te handhaaf nie. Ek het dus die versoek vir 'n afspraak geweier.
'n Soortgelyke versoek is in 2012 en vroeër vanjaar ook geweier.
"Sonder om name te noem – dis die volle storie. Ek sou dit nie normaalweg vertel nie. Hierdie is 'n uitsonderlike geval, waarin die feite verdraai is en gemanipuleer is om weereens die DA te ondermyn," het Zille gesê.
"Miskien die heel belangrikste: Die skenker het nie een keer 'n DA-regering gevra vir enige gunste of spesiale behandeling nie. Hy weet baie goed ons funksioneer nie so nie."
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24