Zille en Plato skend Grondwet, se ANC
2010-06-30 10:00
Die Burger
Kaapstad - Helen Zille, Wes-Kaapse premier, en Dan Plato, burgemeester, se uitstappery uit ’n vergadering oor die oop toilette in Khayelitsha verlede week is Dinsdag deur die ANC gestriem.
Die regerende party meen dié optrede behoort as “arrogant” en “’n gebrek aan respek teenoor die gees van koöperatiewe regering” beskou te word.
Zille het egter voet by stuk gehou dat die enigste mense wat by dié vergadering arrogant was, die ANC-jeugliga was.
Die ANC het Dinsdag by monde van Jackson Mthembu, woordvoerder, in ’n verklaring dié twee DA-leiers gevra om van “hul perdjies af te klim” en die verantwoordelikhede wat ingevolge die Grondwet aan hulle toevertrou is, te hanteer.
“As die voortslepende konflik oor die ras- gemotiveerde toiletsage in Khayelitsha in ag geneem word, het Zille en Plato die Grondwet – wat menseregte beskerm – ernstig geskend.”
Zille en Plato het Donderdag uit ’n vergadering met die minister van samewerkende regering, Sicelo Shiceka, gestap nadat lede van die ANC-jeugliga gedreig het om Kaapstad ná die Wêreldbeker-sokkertoernooi onregeerbaar te maak.
Geen ooreenkoms kon dus op die vergadering oor die toebou van oop toilette in Makhaza bereik word nie.
Mthembu het die Wes-Kaap as “rasgepolariseerd” bestempel, waar swart mense vir “minderwaardige” diens deur die provinsiale regering uitgesonder word.
Zille het Dinsdag in reaksie gesê sy het juis ’n streep getrek teen die ANC-jeugliga se arrogante gedrag.
“Ek onderhandel nie met die ANC-jeugliga nie. Ek het gesê ek onderhandel nie met mense wat dreig om die stad onregeerbaar te maak nie...
“Ek sal enige tyd met die minister vergader, maar nie met die ANC-jeugliga nie.”
Andile Lili, streekstesourier van die ANC-jeugliga, het ontken dat dié organisasie arrogant is
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger