Zille al van DA-leierskap verseker
2010-07-05 07:34
Die Burger
Kaapstad - Helen Zille, Wes-Kaapse premier en DA-leier, is minstens die volgende twee jaar van die partyleierskap verseker nadat sy pas onbestrede benoem is as leier van dié party.
DA-lede kies later vandeesmaand nuwe nasionale leiers wanneer die party se tweejaarlikse nasionale kongres op 24 en 25 Julie in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum plaasvind.
Dr. Wilmot James, DA-LP, is onbestrede benoem as nuwe nasionale voorsitter. Hy sal dié amp oorneem by Joe Seremane, wat hom onttrek het.
Vroeër is gegis dat Patricia de Lille, OD-leier, dié amp sou oorneem nadat dié party besluit het lede mag lidmaatskap van ander partye ook hê.
De Lille het egter Vrydag aan Anesca Smith gesê dit is nie moontlik vir enige OD-lid om by die DA aan te sluit alvorens laasgenoemde ’n mandaat by sy kongres kry oor ’n moontlike samewerkingsooreenkoms in die toekoms nie.
Daar was vroeër aanduidings van OD-lede wat glo besware het dat die OD deur die DA ingesluk kan word. De Lille kon nie gister vir kommentaar bereik word nie.
Greg Krumbock, uitvoerende direkteur van die DA en DA-LP, het gister gesê drie ondervoorsitters gaan ook gekies word.
Altesame nege benoemings vir die vyf topposte in die party is ontvang. Hulle is Anchen Dreyer (LP), Sizwe Mchunu (KZN-LPP), Anroux Marais (Wes-Kaapse LPP), Dianne Kohler Barnard (LP), en Bonginkosi Madikizela (provinsiale minister van behuising), Khume Ramulifho (voorsitter: DA-jeug), Seja Motau (DA-LP), Bazil Alexander (Vrystaatse LPP) en dr. Ivan Meyer (Wes-Kaapse minister van maatskaplike dienste) in.
Daar sal ná afloop van die kongres ’n vergadering van die federale raad plaasvind waarop ’n voorsitter, adjunkvoorsitter en die federale voorsitter van finansies ook verkies sal word. Vier beleidgewende kwessies is op die agenda vir bespreking op die kongres, naamlik grondwetlike en verwante sake, justisie, maatskaplike kwessies en ekonomie.
Besluite oor dié aspekte sal in resolusies vervat word.
James Selfe, voorsitter van die federale raad, het gister gesê die DA-grondwet maak voorsiening vir dubbele lidmaatskap.
“As lede van ’n ander party by die DA wil aansluit, moet hulle aansoek doen by die federale raad. Ons het nog nie sulke aansoeke ontvang nie.”
- Volg Nuus24 op Twitter.