Zille, Zuma gou in gesprek oor Mogoeng
2011-08-29 18:53
Johannesburg – Helen Zille, leier van die Demokratiese Alliansie, het ‘n vergadering met President Jacob Zuma aangevra om in persoon sy benoeming van Regter Mogoeng Mogoeng as hoofregter te bespreek.
“Gegewe die gewig van die kwessie, die nood vir betekenisvolle raadpleging en die verwagte lengte van ons geskrewe voorleggings, stel ek voor ons ontmoet in persoon op Maandag 5 September,” het Zille in ‘n brief aan Zuma geskryf.
Die DA het verlede week ‘n verlenging aangevra van die spertyd van 24 Augustus vir politieke partye om kommentaar oor die benoeming te lewer. Die party wil sy bydrae lewer ná Mogoeng se onderhoud met die Regterlike Dienskommissie (RDK) Saterdag.
Volgens Zille het Zuma ingestem.
Sy benoeming van Mogoeng om die afgetrede hoofregter Sandile Ngcobo op te volg het ‘n storm ontketen, met kritici wat Mogoeng se gebrek aan ervaring in die Konstitusionele Hof en sy omstrede beslissings uitwys.
Die DA het egter tot dusver kommentaar weerhou tot ná sy onderhoud met die RDK.
“Dit is só ‘n ktitieke kwessie dat ons seker wil maak ons voer ‘n behoorlike dialoog,” het Priya Reddy, woordvoerder van Zille, Maandag gesê oor die versoek vir ‘n vergadering.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA