Zille: 'DA sal nie apartheid terugbring'
2013-01-26 15:00
Johannesburg – Mense moenie bang wees dat die Demokratiese Alliansie apartheid sal terugbring as die party aan bewind sou kom nie, het Helen Zille, die party se leier, Saterdag gesê.
“Ons sal nooit apartheid terugbring nie. Inteendeel, mense wat dink die lewe was beter onder apartheid behoort nie in die DA nie. Ons sal nooit jul toelaes en huise wegneem nie,” het sy gesê.
“Ons sal net werk om geleenthede uit te brei, die ekonomie te laat groei om werke vir meer mense te skep, skole reg te maak... beter basiese dienste lewer en die korrupsie stopsit wat geld direk uit die sakke van die armste mense steel.”
Zille het in Umzimkhulu, KwaZulu-Natal, gepraat tydens die verwelkoming van Jabulani Chiya by die party.
Chiya is ‘n voormalige lid van die ANC wat onafhanklik gestaan het in die munisipale verkiesings.
Zille sê Chiya is deel van die groeiende getal voormalige ANC-lede en aktiviste wat nou by die DA aansluit.
Zille het ook in haar toespraak verwys na ‘n brief van Lesego Setou wat Vrydag aan die Mail&Guardian geskryf is met die titel “Vrees vir die onbekende”.
Setou het gesê die rede hoekom mense in giftige verhoudings bly, is vrees. Hulle is bang vir die onbekende en sal eerder bly by die bekende, maak nie saak hoe moeilik, vreesaanjaend of ondraagbaar dit is nie.
“Ek het besef hoe ons die ANC toegelaat het om ons te mishandel. Ons het die ANC vertrou toe hulle ons met aanhoudende stygende kragtariewe teleurgestel het,” het die brief gelees.
“Ons het by die ANC gebly selfs toe hy ons verneuk het in die vorm van korrupte staatsdienswerkers wat ons belastinggeld mors. Ons het die ANC vergewe vir ontrouheid in die wapenskandaal en ons vergewe hom steeds terwyl hy ons in die gesig klap met die e-tolstelsel.”
Setou sê die meerderheid van swart Suid-Afrikaners bly in ‘n “giftige verhouding” met die ANC en sê hulle het “’n vrees vir Helen Zille”.
“Ons is bang om ‘n kans op haar te waag as gevolg van die kleur van haar vel, ons is bang vir die beleide wat sy in plek het vir ons.”
Nietemin het Zille gesê daar is niks om voor bang te wees nie, soos waargeneem kan word deur ANC-lede wat na die DA skuif.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA