Zenani-begrafnis: Supermodel stuur video-boodskap
2010-06-17 10:19
Johannesburg – Roubeklaers het reeds vroeg Donderdagoggend opgedaag by die St. Stithians College se kapel op die skoolgronde in Johannesburg vir die begrafnis van Zenani Mandela.
Zenani is die agterkleinkind van Nelson Mandela en het verlede week tragies in ‘n motorongeluk gesterf na afloop van die Wêreldbeker-sokkertoernooi se afskop-konsert.
Meestal in swart geklee, het die roubeklaers die koue trotseer en die kapel binnegegaan. Teen 09:15 het die familie nog nie opgedaag nie.
Verskeie kinders in skool-uniforms het ook die diens bygewoon. Daar is ook blomkranse voor die skool se hoof-ingang neergelê.
Die bestuurder van die motor waarin Zenani gesterf het is ‘n vriend van die Mandela-familie. Hy is na afloop van die voorval in hegtenis geneem en aangekla van dronkbestuur.
Die verdagte sal na verwagting op 26 Julie in die hof verskyn.
Na bewering sal die Soweto Gospel Choir tydens die diens optree. ‘n Video-boodskap vanaf die supermodel, Naomi Campbell, sal glo ook uitgesaai word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA