Zapiro reageer met nuwe spotprent
2010-05-27 14:43
Johannesburg – Die spotprenttekenaar Zapiro (Jonathan Shapiro) sal reageer op die omstrede profeet Mohammed-spotprent deur ‘n nuwe een te teken wat Vrydag gepubliseer sal word.
“Zapiro word oorval met oproepe van joernaliste en het besluit dat hy almal se vrae sal antwoord met ‘n spotprent wat Vrydag in die Mail & Guardian sal verskyn,” het sy assistent, wat onbekend wou bly, gesê.
Nic Dawes, redakteur van die Mail & Guardian, het hierdie week om verskoning gevra vir die reaksie wat Zapiro se laaste spotprent ontlok het.
Volgens Dawes het die koerant en Zapiro met verteenwoordigers en sakeleiers van die Moslem-gemeenskap ontmoet om hulle bekommernisse te bespreek.
“Ons is jammer dat sekere mense aanstoot geneem en seergemaak is deur die spotprent,” het Dawes gesê.
Die spotprent was glo ‘n tekening van die profeet Mohammed wat op ‘n bank lê en met sy sielkundige gesels. Hierdie skets kom na aanleiding van die Facebook-groep “Everybody Draw Muhammad Day”.
Hierdie groep het lede aangemoedig om sketse van Mohammed te teken en dan aanlyn te publiseer.
-Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.