Zandspruit: Klaskamer by skool afgebrand
2011-07-01 10:14
Johannesburg – Inwoners van Zandspruit in die noorde van Johannesburg het oornag 'n petrolbom in 'n klaskamer gegooi, het die polisie Vrydag gesê.
Ao. Balan Muthan, polisiewoordvoerder, het gesê die klaskamer het afgebrand, maar die brand het nie ander klaskamers bereik nie.
Muthan kon nie die naam van die skool verskaf nie.
"Dit is nou kalm en geen betogings aan die gang nie," het hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, gesê.
Geweld het Donderdag uitgebreek toe betogers Beyers Naudé-rylaan met motorbande versper en verbygaande motors en polisiebeamptes met klippe bestook het.
Die pad is vir 'n ruk lank gesluit, maar later weer oopgestel vir verkeer.
'n Betoger is in hegtenis geneem vir brandstigting en sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.
Niemand is beseer nie.
Inwoners in die gebied betoog oor swak dienslewering.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA