Ysterpaal deurboor 'kabeldief'
2012-06-25 07:29
Johannesburg – 'n Man is dood nadat hy Saterdagmiddag in 'n ongebruikte woonstelgebou in Pretoria deur ysterpale deurboor is, het die Tshwane-metropolisie gesê.
"Die man het vermoedelik by sekuriteitsbeamptes verbygesluip en wou staal- en koperkabels in die gebou steel, het Console Tleane, 'n polisiewoordvoerder, in 'n verklaring gesê.
Die man, wat in sy 30's was, het waarskynlik gegly terwyl hy op een van die boonste verdiepings van die Kruger Park-gebou besig was.
"Hy het tot by die onderste verdieping geval, waar hy op ysterpale beland het wat sy liggaam deurboor het," het Tleane gesê.
Die man is op die toneel dood verklaar.
Dié gebou sowel as die aangrensende Schubart Park-gebou sal binnekort gesloop word.
Die voorval word deur die polisie ondersoek, het Tleane gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA