Ysterman-slagoffers se name bekend
2013-01-22 11:47
Johannesburg – Die name van die twee atlete wat die afgelope naweek by die half-Ysterman-kompetisie in Oos-Londen gesterf het, se name is bekend gemaak, berig Beeld.
Die twee deelnemers, wat as Kevin Staessen (28) van Johannesburg en Berton Bosman (38) van Pretoria geïdentifiseer is, het in die swemskof van die kompetisie ’n hartstilstand gekry en gesterf.
Dit was die eerste keer dat die twee mans aan die kompetisie deelgeneem het en albei het reeds meer as ’n kilometer ver geswem toe nooddiensbeamptes hulle opgepik het, het Michael Flanagan, woordvoerder van die kompetisie, gesê.
In die half-Ysterman swem atlete 1,9 km in die see, ry 90,1 km fiets en hardloop daarna 21,1 km.
Volgens berigte is pogings aangewend om die atlete op die toneel en in die mediese tent by te bring. Hulle is daarna na die St Dominic's-hospitaal geneem vir gespesialiseerde behandeling.
Nadat hulle by die hospitaal ondersoek is, is hulle dood verklaar.
– Volg Nuus24 op Twitter