Yengeni bedank uit direkteursposisies
2010-11-04 17:06
Kaapstad - Die ANC-swaargewig Tony Yengeni het bedank uit die ses direkteursposisies wat hy by ses maatskappy beklee het, het sy prokureur Donderdag gesê.
Yengeni was nie in die land nie en het Woensdag na Suid-Afrika teruggekeer, het Brian Kahn in ‘n verklaring gesê.
“Dit is die eerste geleentheid om die onlangse berigte dat Yengeni die Maatskappywet oortree het deur direkteurskappe by ses maatskappye te aanvaar, te bespreek,” het hy gesê.
Nadat Yengeni met sy prokureurs gekonsulteer het, het hulle aanbeveel dat hy uit die posisies bedank.
Yengeni het blykbaar geglo hy mag nie direkteurposisies by publieke maatskappye beklee nie, maar nie gedink die wet geld vir privaat maatskappye nie.
“Yengeni het op geen tydstip bedoel om die Maatskappywet te oortree nie, en toon berou,” het die verklaring gelees.
Die Demokratiese Alliansie het vroeër vandeesweek klagtes teen Yengeni gelê omdat hy as direkteur van ses maatskappy opgetree het ten spyte van sy vonnis van vier jaar tronkstraf wat hom volgens wet verhoed om die posisies te beklee.
Ingevolge die Maatskappywet word enigiemand wat weens bedrog of oneerlikheid tronkstraf kry sonder die keuse van ’n boete, outomaties verbied om ’n direkteur van ’n maatskappy te wees.
’n Persoon wat voorheen veroordeel is, kan wel ’n hooggeregshof vra om die verklaring van onbevoegdheid tersyde te stel.
Yengeni het so aansoek gerig, sê sy prokureurs.
Rapport en City Press het Sondag berig dat Yengeni ‘n direkteur van ses maatskappye was ten spyte van sy vonnis.
Yengeni het in 2005 by drie van die maatskappye aangesluit, voordat hy die daaropvolgende jaar tronk toe gestuur is. Hy het in 2008 by die ander drie maatskappye aangesluit.
- SAPA