Wouter Basson se praatjie laat wenkbroue lig
2013-01-31 09:50
Kaapstad – Die kardioloog Wouter Basson het uitgevaar teen kritici wat hom ná 'n motiveringspraatjie wat hy by 'n Kaapse buiteklub gelewer het, gekap het, is Donderdag berig.
Die praatjie, wat hy Vrydag by die eksklusiewe Kelvin Grove-buiteklub gelewer het, het "die wenkbroue laat lig en op sommige sosiale netwerke word die klub se uitnodiging aan Basson bevraagteken".
Basson het egter aan die koerant gesê hy lewer jaarliks duisende soortgelyke praatjies en weet nie hoekom dié spesifieke een so baie reaksie ontlok het nie.
"Dit was 'n wonderlike bespreking. Ons het 'n wonderlike dag gehad met wonderlike kos en wonderlike mense."
Basson was die hoof van Project Coast – die weermag se destydse projek vir chemiese en biologiese oorlogvoering.
Dié projek was na bewering gemik op die vervaardiging van traangas en verskeie chemiese middels wat ingespan is vir skarebeheer en vir gebruik teen die regering se vyande in die Grensoorlog in die tagtigerjare.
Basson is in April 2002, ná 'n verhoor van 30 maande, vrygespreek op meer as 40 aanklagte van ondermeer moord, bedrog en dwelmhandel.
Hy het aan die Cape Times gesê diegene wat sy praatjies kritiseer is "dwaas en ongeligte" mense.
"Duidelik het hulle nie die hofsake gevolg nie. Niks is in die hooggeregshof in Johannesburg teen my gevind nie."
Corine Sharp, die Kelvin Grove-buiteklub se bemarkingsbestuurder, het aan die koerant gesê sy gaan nie kommentaar lewer oor Basson se toespraak nie. Sy het alle navrae na die bestuur verwys.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA