Wonderbaba het beter kans om te oorleef
2011-10-26 07:59
Port Elizabeth – Die kans op oorlewing van ’n Baaise baba wat met ’n uiters seldsame sindroom gebore is, het dramaties verbeter nadat hy Dinsdag in die Dora Nginza-hospitaal geopereer is.
In die prosedure het dr. Ricardo Gonzalez, ’n pediatriese chirurg, die baba se hartjie – wat buite die borskas ontwikkel het – op sy plek teruggeplaas.
“Alles het glad verloop. Die kleintjie is baie sterk en, gegewe alles wat hy al deurgemaak het, lyk sy kanse goed,” het Gonzalez na afloop van die operasie van byna twee uur gesê.
Volgens dr. Aydin Vebhi, senior mediese bestuurder van die Baaise hospitaalkompleks, ly die baba aan pentalogie van Cantrell. “Dit is ’n geboorte-afwyking. In die geval van ’n normale fetus ontwikkel die organe in verskillende posisies in die baarmoeder en skuif dan later na die korrekte plek in die liggaam.
“In dié geval sluit die borsbeen voordat die hart in die borskas inskuif,” het Vebhi verduidelik.
Die kans op oorlewing is gewoonlik nie goed nie. In 65% tot 70% van die gevalle word die babas dood gebore of sterf kort daarna.
Dié baba se tienerma (17) het Maandag in haar huis in Zwide aan hom die lewe geskenk. Sizwe Kupelo, gesondheidswoordvoerder, het gesê die familie was met skok en afgryse vervul toe hulle die hartjie buite die bors sien klop. “Hulle het hom net so in ’n kombers toegedraai en hospitaal toe gejaag.
“Dat hy dít oorleef het, is reeds ’n wonderwerk, want die hartjie is heeltemal weerloos en met ’n baie dun membraan bedek, buite die bors. As hulle hard daarop gedruk het, kon dit onmiddellik opgehou klop het.”
Vebhi het gesê hul grootste prioriteit was om die hart met vel te bedek en só die risiko van besmetting uit te skakel. Gonzalez was gelukkig genoeg om nie net genoeg oortollige vel te kry om die hart te bedek nie, maar ook ’n goed ontwikkelde spier.
Dié sindroom gaan gewoonlik ook met ander afwykings gepaard, soos afwykings aan die hart, longe en ingewande.
Dr. Lungile Pepeta, die enigste pediatriese kardioloog in die Oos-Kaap, is by die Dora Nginza-hospitaal gestasioneer. Sodra die baba voldoende van gister se prosedure herstel het, sal hy ’n volledige reeks toetse op hom doen om enige ander afwykings te identifiseer en dan op behandeling besluit.
Vebhi het gesê as die baba in ’n private hospitaal behandel moes word, sou die rekening waarskynlik honderdduisende rande beloop het. “Alles is uiters gespesialiseerd, maar ons beskik oor die beste van die beste. Ons gaan hom die grootste moontlike kans op oorlewing probeer gee.”
Volgens Kupelo wil die ouers van Zimbabwe nie hul identiteit bekend gemaak hê nie. “Dis verstaanbaar dat hulle uiters besorg is oor hul baba en net deur dié moeilike tyd wil kom.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld