Woedende skare wil vermeende verkragter takel
2010-06-23 20:13
Johannesburg – Polisie in Mpumalanga moes ‘n man van
woedende inwoners van Kwaggafontein red ná hy glo sy 15-jarige stiefdogter
verkrag het.
‘n Groep van sowat 100 mense het Dinsdagaand omstreeks
20:00 na die 30-jarige man se huis opgetrek.
Volgens konst. David Mahlangu was die groep agter die man
se bloed aan.
“Die skare was op die drumpel om sy huis te bestrom toe die
polisie op die toneel aankom,” het Mahlangu Woensdag gesê.
Die vermeende slagoffer het in die huis saam met haar
34-jarige ma en stiefpa gewoon.
Haar stiefpa het haar glo verlede week verkrag.
Die man is in hegtenis geneem en ‘n klag van verkragting is
deur haar ma teen hom gelê.
Hy sal eersdaags in die Mkobola-landdroshof verskyn.
- SAPA