Woedende lede bestorm ANC-kantoor
2011-03-22 23:00
Johannesburg – Ontevrede lede van die ANC het dié party se provinsiale kantore in die Wes-Kaap Dinsdag binnegestorm nadat die verkiesingskandidate in 16 wyke aangewys is.
Volgens Songezo Mjongile, sekretaris van die ANC in die Wes-Kaap, was die “ongedissiplineerde” lede ontevrede oor die ANC se nuutste verkiesingskandidate wat in die Wes-Kaapse wyke aangestel is.
“Die ANC keur glad nie hierdie tipe gedrag goed nie,” het hy gesê.
“Hulle het daarop aangedring dat hulle kandidate aangestel word, sonder dat die nodige prosedures gevolg word.”
Die groep het ‘n deur afgeskop en die provinsiale leiers van die ANC gedreig.
Na bewering is die hulp van die polisie ingeroep en is die ontevrede persone van die perseel verwyder.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA