Woede, verwarring toe 1time vou
2012-11-03 07:36
Johannesburg – Die dagblad Beeld het Saterdag berig dat passasiers van die bankrot lugredery 1time nog teen Vrydag 14:00 kaartjies kon koop.
Dié kaartjies was teen 15:00 nutteloos, toe die lugredery skielik aangekondig het dat hy gelikwideer word.
“My suster moes vandeesweek vliegtuigkaartjies vir ses van haar kollegas vir ’n werkgeleentheid in Durban aanskaf en volgens haar het 1time vanmiddag om 14:00 nog die nuwe besprekings gedoen en die betaling daarvoor aanvaar,” het 'n passasier, Beverley Geddon, volgens Beeld Vrydag op die O.R. Tambo-lughawe vertel.
“Ek kan dit amper nie glo nie! Hoe is so iets moontlik?”
Haar swaer, Peter Hammond, het op sy beurt gekla hy het 1time probeer bel het om uit te vind hoe dit sy 21-jarige seun, Travis, se reisplanne raak, maar moes meer as ’n uur lank aanhou.
Hammond sr. is later self lughawe toe, maar die lugdiens kon nie meer inligting verskaf nie.
“Ek is regtig baie gefrustreerd hieroor. My seun is ’n mediese student en wou vir Kersfees ’n bietjie Durban toe gaan. Hy het die blaaskans werklik baie nodig en was natuurlik verpletter om te hoor dat hy nou sy oorspronklike kaartjie kwyt is,” het Hammond aan die dagblad gesê.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter.