Woede, trane oor Pelonomi-hospitaal
2010-11-04 06:26
Volksblad
Bloemfontein - Ingrypende stappe is deur die Vrystaatse departement van gesondheid aangekondig om die veiligheid by die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein te verbeter ná die verkragting van ’n vroulike dokter terwyl sy aan diens was.
Dié stappe volg op ’n plofbare vergadering van dokters en departementshoofde by die Universiteit van die Vrystaat (UV) Woensdag met verteenwoordigers van die Vrystaatse departement van gesondheid, waar die departement as “disfunksioneel, pateties, oneties en gevaarlik vir menselewens” uitgekryt is.
Baie geneeshere het Pelonomi se sluiting geëis.
Op die vergadering het prof. Gert van Zyl, dekaan van gesondheidswetenskappe aan die UV, in trane uitgebars.
Die Vrystaatse gesondheidshoof, dr. Sipho Kabane, het erg geskerm vir die LUR, Sisi Mabe, wat in haar afwesigheid geskitter het.
Sy was glo bang vir die dokters en het dus nie opgedaag nie.
Op die vergadering het kliniese assistente (dokters wat as spesialiste kwalifiseer) ’n lys voorwaardes oor veiligheid voorgehou. Dit moes nagekom word alvorens hulle weer by Pelonomi sal werk.
Hul verteenwoordiger het gesê daar is geen permanente senior bestuurders by Pelonomi om aanspreeklikheid te aanvaar nie.
Later Woensdagmiddag het die departement wel “ingrypende veiligheidsmaatreëls” afgekondig, maar die Vereniging van Staatseamptenare (VSA) in die Vrystaat betwyfel die werkbaarheid daarvan.
Die departement het die maatreëls later Woensdag bekend gestel in ’n verklaring waarin Kabane sê die departement “vat die sekuriteit by die Pelonomi-hospitaal terug” en “gaan ’n veilige omgewing vir gesondheidswerkers hier skep”.
Dit was nadat hy op die vergadering by die UV erken het die departement was “naïef oor sekuriteit”.
Die maatreëls wat Kabane “met onmiddellike effek” by Pelonomi aangekondig het, is die ontplooiing van 37 opgeleide polisiereserviste per skof; streng beheer by ingange; streng toepassing van besoektye; vervanging van gebreekte slotte; instelling van ’n portierdiens om bloedmonsters laboratoriums toe te vat; installering van kringtelevisie; en beligting in donker plekke.
Voorts gaan ’n onhafhanklike sekuriteitsmaatskappy ’n omvattende ondersoek doen om te kyk wat nog gedoen kan word. Ook gaan die kitsbank in die hospitaal verwyder word.
Kabane het ook gesê ’n uitvoerende hoof vir Pelonomi is reeds aangestel. Dit is “net ’n kwessie van tyd” voordat dié nuwe besem begin werk.
Die maatreëls sal mettertyd by ander staatshospitale in die provinsie ingestel word.
Met ’n besoek van Volksblad Woensdag omstreeks 18:00 aan Pelonomi, was opvallend meer wagte aan diens.
Geen reserviste is opgemerk nie en geen toegangsbeheer toegepas nie.
’n Dokter het gesê sy is verheug oor die maatreëls.
“Hulle het in vyf uur meer reggekry as in vyf jaar. Hopelik hou dit.”
Gerhard Koorts, provinsiale bestuurder, het gesê die VSA het waardering vir die stappe, maar ’n “gebrek aan ’n tydraamwerk om dit in te stel, is ’n ou siekte in die departement”.
Dié stappe moet ook in al die provinsiale staatshospitale soos Manapo-, Boitumelo-, Nasionale en Universitas-hospitale ingestel word, waar verpleegpersoneel se veiligheid nie altyd seker is nie.
Koorts het ook gesê daar is geen maatreëls aangekondig om pasiënte te beskerm nie.
- Volksblad