Woede oor eksamens ontwrig word
2010-09-17 08:30
Kaapstad - Die ontwrigting van die matriek-rekordeksamens is heeltemal onaanvaarbaar, het die kabinet Donderdag gesê.
Die Congress of South African Students (Cosas), het vroeër vandeesweek geëis dat die rekordeksamens landwyd opgeskort moet word omdat matrikulante te veel onderrigtyd tydens die onlangse staking deur staatsdienswerkers verloor het. Cosas meen alle kandidate moet 25% gratis punte kry, wat vir die rekordeksamen moet tel.
Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het egter Woensdag geweier en gesê dié punte moet verdien word en diegene wat die rekordeksamen boikot, moet met dié besluit saamleef.
Geïsoleerde voorvalle van ontwrigting is die afgelope paar dae by skole in veral Gauteng, Limpopo, die Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap aangemeld.
Sapa het gister berig Cosas het sy protesaksie tydelik opgeskort hangende ’n vergadering môre met die onderwysdepartement.
Themba Maseko, regeringswoordvoerder, het gister die ontwrigting van skole namens die kabinet in die sterkste moontlike taal veroordeel.
Hy het gesê gegriefde leerders moet hul griewe teenoor die owerhede opper.
“Dit blyk asof sommige van die leerders se bekommernisse geregverdig is, soos waar hulle in sommige gevalle nie seker is oor eksamenroosters nie.”
Provinsiale onderwysdepartemente is versoek om hul kommunikasie met skole te verbeter ten einde seker te maak almal is bewus van planne rondom die eksamen.
“Die ontwrigting van eksamens is totaal onaanvaarbaar. Sover die kabinet bewus is, is daar geen planne om die rekord- of eindeksamens te kanselleer of uit te stel nie.
“Die minister is tans besig om onderwys-LUR’e en vakbonde te ontmoet om die situasie so gou as moontlik reg te stel.
“As leerders en onderwysers opregte bekommernisse het, sal ons daaraan aandag gee, maar die ontwrigting van skole en eksamens is nie ’n aanvaarbare wyse om aandag aan daardie probleme te gee nie.”
Die matriekeksamen begin oor 38 dae.
- Die Burger