Woede oor Oscar-voorblad
2013-02-15 09:20
Kaapstad – Die Britse poniekoerant The Sun het onder skoot gekom vir die manier waarop hy die storie oor Oscar Pistorius in Vrydag se uitgawe hanteer het.
Verskeie mense het hul ontvredenheid met die koerant se voorblad op Twitter uitgespreek.
Die koerant het 'n foto van Reeva Steenkamp, Pistorius se vriendin, waar sy in 'n bikini poseer, op die voorblad geplaas.
Opskrifte op die blad impliseer dat Oscar om 03:00 in die oggend drie skote afgevuur het, en tien minute later weer drie keer geskiet het. Dié bewerings is strydig met polisie-inligting oor die skietery.
Die sensasionele aard van die voorblad is skerp op sosiale netwerke gekritiseer.
(Klik hier vir die voorblad.)




Intussen het die Tshwane-metropolisie die media beveel om weg te beweeg van die pad buite die Silver Woods Estate, waar die voorval plaasgevind het.
Die Paralimpiese atleet sal na verwagting later Vrydag in die Pretoria-landdroshof verskyn op 'n aanklag van moord nadat sy vriendin, die model Reeva Steenkamp, Donderdag by sy huis doodgeskiet is.
Die sportheld het Donderdagnag in 'n sel by die Boschkop-polisiestasie deurgebring en sy prokureur, Kenny Oldwage, het gesê hy sal Vrydag om borgtog aansoek doen. Die staat sal na verwagting sy borgtog teenstaan.
Aanvanklike berigte oor die skietery het aangedui dat Pistorius moontlik sy vriendin vir 'n inbreker aangesien het. Die polisie het egter later gesê dié inligting het nie van hulle gekom nie.
– Volg Nuus24 op Twitter