Wittes se regte misken, sê Solidariteit
2012-11-02 15:57
Johannesburg – 'n Beslissing in die Arbeidsappèlhof wat verband hou met regstellende aksie kom neer op die miskenning van wit Suid-Afrikaners se reg op gelykheid, het die vakbond Solidariteit Vrydag gesê.
Die Arbeidsappèlhof het die polisie Vrydagoggend gelyk gegee dat 'n vrou onregmatig as 'n wit vrou in 'n hoër pos aangestel is.
Adjunk-regterpresident Basheer Waglay het die arbeidshof se beslissing omgekeer en die SAPD se appèl toegestaan.
Dirk Hermann, adjunkhoof van Solidariteit, het gesê dié uitspraak is nie aanvaarbaar in 'n konstitusionele demokrasie nie.
"Ons dink nie die Grondwet maak voorsiening vir hierdie soort rassisme nie."
Basheer Waglay, regter in die Arbeidsappèlhof, het 'n appèl deur die SAPD teen 'n beslissing in 2010, wat beveel het dat kapt. Renate Barnard bevorder word, toegestaan.
Barnard het in 2005 as kaptein aansoek gedoen om bevordering in 'n pos in 'n eenheid wat prioriteits- en gewone klagtes teen die polisie evalueer. Sy was bevoeg vir die taak, maar haar aansoek is afgekeur.
Dieselfde pos is in 2006 weer geadverteer, en Barnard se aansoek is weereens afgekeur. Dieselfde het gebeur toe die pos 'n derde keer geadverteer is.
Barnard het in 'n opspraakwekkende saak, waarin sy deur Solidariteit verteenwoordig word, geëis dat sy wel aangestel word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA