Polisie stil oor Dewani-moord
2010-11-28 17:42
Die Wes-Kaapse polisie wou Sondag steeds geen kommentaar lewer oor die moord van die Britse toeris, Anni Dewani nie.
“Ons gaan nie kommentaar lewer oor die Dewani-saak nie. Die saak is voor die hof,” het luit. kol. Andre Traut gesê.
Verskeie koerante het die afgelope tyd berig dat Shrien Dewani, Anni se man, terug in die land is en ook ‘n verdagte in die moordsaak is.
Anni is tydens ‘n kaping in Guguletu, Kaapstad vermoor.
Ander berigte het weer gespekuleer dat Shrien die polisie help om die verdagtes te identifiseer.
Die Weekend Argus het gesê die polisie is op soek na ‘n vierde verdagte, ‘n 31-jarige man wat vir ‘n Kaapse hotel werk.
Drie verdagtes is reeds agter tralies. Hulle is die bestuurder van die gekaapte taxi, Zola Tongo (31), Xolile Mngeni (23) en Mziwamadoda Qwabe (25).
Hulle staar klagtes van moord, roof en ontvoering in die gesig en sal weer Maandag in die Wynbergse landdroshof verksyn.
Joernaliste en fotograwe het Saterdag buite die polisiestasie in Manenberg saamgedrom om te sien of die 30-jarige Shrien sy verskyning gaan maak. Maar daar is aan die media gesê dat albei ooggetuies is plaaslike mense en dat Shrien nie by die uitkenningsparade teenwoordig was nie.
Vrydag het twee bronne na aan die saak glo bevestig dat Shrien in die land is en dat hy die uitkenningsparade sou bywoon.
Maar Shrien se prokureur, Billy Gundlefinger, het die gerugte ten sterkste ontken.
Die Daily Mail in die Verenigde Nasies het Sondag berig dat Anni se pa, Vinod Hindocha in ‘n telefoniese onderhoud aan
die publikasie gesê dat sy dogter in trane uitgebars en geweier het om langs haar man te sit tydens hul vlug na Kaapstad.
“Die lugwaardin het glo aan Anni gevra of sy langs Shrien wou sit, maar sy het nee gesê,” het Hindocha gesê.
Dit is nog nie bekend hoe dié inligting aan Anni se familie oorgedra is of waar dit vandaan kom nie.
Die Mail&Guardian het Vrydag berig dat ondersoeke tans aan die gang is om Shrien te oorreed om vrywillig terug te kom na Suid-Afrika, en as hy nie wou nie sal hy aangekla en gearresteer word.
Dewani het Kaapstad vier dae nadat sy vrou se liggaam in Khayelitsha gevind is verlaat.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA