Witbank-tiener in hof vir losprysmoord
2012-11-16 14:27
Johannesburg – ‘n Tiener wat daarvan aangekla word dat hy ‘n 14-jarige meisie vermoor het, het in die Witbank-landdroshof verskyn, het die polisie in Mpumalanga gesê.
Kol. Leonard Hlathi sê die jeugdige het vroeër die week in die hof verskyn en is na ‘n plek van veiligheid geneem. Hy is ‘n week gelede vasgetrek.
Die 17-jarige verdagte, wat langs die meisie se gesin gewoon het, word daarvan beskuldig dat hy Pretty Ntokozo Mtsweni ontvoer en vermoor het. Sy is op 12 Oktober laas in Tasbet Park, Witbank, gesien.
Hlathi sê die meisie se lyk is langs die N12 gevind. Sy is verwurg.
Volgens die polisiebeampte het Mtsweni se gesin oproepe gekry waarin ‘n losprys geëis is.
Daily Sun berig ‘n SMS is die aand wat sy vermis geraak het, van haar selfoon gestuur. ‘n Losprys van R400 000 is geëis en haar pa is gewaarsku om nie die polisie te kontak nie.
Die oorledene se ma, Hlani, sê die seun het ‘n week ná die meisie se verdwyning, die gesin gevra of sy al opgespoor is.
“Hy het gevra of Ntokoza al opgespoor is. Ek was aangedaan dat mense in ons gebied ons pyn gevoel het,” het sy aan die koerant gesê.
Die tienermeisie se lyk is op 8 November gevind, maar die polisie kon dit nie bevestig nie.
Daily Sun het ook aanvanklik berig dat die meisie onthoof is, maar die polisie ontken hierdie bewering.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA