Wit lede gedreig as hulle nie saam wil fuif
2010-12-10 08:35
Beeld
Lede van die weermag se verdedigingshoofkwartier-eenheid is ontstoke nadat hul bevelvoerder die wit lede gedreig het dat hy hulle sal “wegjaag” as hulle voortaan nie saam met die res wil partytjie hou nie.
Kol. M.C. Ngcama het luidens die notule van ’n vergadering waartydens die eenheid in Pretoria se jaareind-onthaal (verlede maand by ’n park in Atteridgeville) bespreek is, dié dreigement laat notuleer.
Die mense het glo tydens die braai en piekniek in groepe verdeel en hy beweer die wit mense het “hul eie plekkie en hul eie kos” na die braai gebring.
Luidens die notule het Ngcama gesê dit is duidelik dat daar twee groepe in die eenheid is: die wit mense en die swart mense. Net sowat 24 van die 300 lede is wit. Tydens die geleentheid het van die wit lede tentafdakkies opgeslaan, klein braaiers gebring en hul kos berei.
Volgens die teenwoordiges was daar minstens vyf groepe waarvolgens dié wat verkies het om saam te kuier, verdeel het. Dit was volgens hulle mense wat mekaar beter geken het.
Ngcama blameer egter die wit lede dat hulle nie met die res wou meng nie.
Van die lede het vooraf voorgestel dat hulle die afsluiting in ’n restaurant gaan hou, maar ander wou dit eerder in ’n park hou waar hulle ongestoord die dag kon “omdrink”, het een van die ontstelde lede gesê.
Ngcama het luidens die notule gesê hy sal nooit weer tydens sosiale geleenthede enige verdeeldheid toelaat nie.
Hy sal die wit mense wegjaag as hulle weer durf apart groepeer. Hy het ook gesê as hulle nie wil deel wees daarvan nie, moet die wit mense die eenheid eerder verlaat.
Hy was ook ontsteld omdat net twee van die wit lede hom aan die einde van die onthaal gegroet het, terwyl die res “bloot verdwyn het”. Hy meen dié optrede was onbeskof. Militêre gebruik wil dit hê dat ondergeskiktes altyd die mees senior persoon by ’n geleentheid sal groet.
Ondanks talle versoeke om kommentaar het die weermag teen druktyd nie gereageer nie.
- Beeld