Wit, Indiër jeugdiges wil landuit – opname
2012-11-21 14:27
Johannesburg – Die aantal wit en Indiër Suid-Afrikaanse jeugdiges wat die land wil verlaat, het toegeneem, het die navorsingsgroep Pondering Panda in ’n opname bevind.
Shirley Wakefield, woordvoerder, het Woensdag gesê 2 606 respondente tussen die ouderdom van 18 en 34 jaar het aan die opname deelgeneem.
Die respondente is gevra of hulle vir altyd in die land wil woon en of hulle in 'n ander land wil bly.
"[Altesaam] 65% van witmense en 53% van Indiërs het gesê hulle wil emigreer, baie meer as swart respondente met 33% en bruin respondente op 43%," het Wakefield in 'n verklaring gesê.
Die maatskappy het gesê die algehele aantal jeugdiges wat die land wil verlaat, het van 25% drie maande gelede tot 36% in November gestyg.
"Die bevindings in ons laaste opname is kommerwekkend. In slegs drie maande het die aantal jong Suid-Afrikaners wat die land wil verlaat, met sowat 50% gestyg," het Wakefield gesê.
Wakefield het gesê die opname toon dat diegene wat die land die graagste wil verlaat, jong mense is wie se vaardighede dringend in die land benodig word.
"Die meeste respondente het gesê hulle sal na die Verenigde State gaan en Australië was veral baie gewild onder wit respondente."
Die opname is vanaf 9 tot 11 November via selfone gedoen.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA