Wiskunde pootjie meer matrieks
2011-01-06 15:39
Pretoria - Hoewel die algehele slaagsyfer vir matrieks in 2010 gestyg het, het die hoeveelheid matrieks wat wiskunde geskryf en geslaag het, gedaal, het die onderwysdepartement Donderdag gesê.
Bobby Soobrayan, direkteur-generaal van die departement van basiese onderrig, het aan die media in Pretoria erken dat die afname in die hoeveelheid matrieks wat wiskunde neem, kommerwekkend is.
Volgens die amptelike Verslag van die Nasionale Seniorsertifikaat-eksamens, het 263 034 matrieks in 2010 wiskunde geskryf. Dit is 38 620 minder as in 2009, 'n daling van 14%.
300 829 het in 2008 die wiskunde-vraestel geskryf.
Die hoeveelheid kandidate met 'n slaagsyfer van 40% en hoër – die slaagsyfer wat as die minimum-vereiste vir universiteitstoelating dien – het van 90 699 in 2009 tot 81 374 in 2010 gedaal. Dit is 'n daling van 10.2%.
Slegs 30.9% van matrieks het meer as 40% behaal.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA