Winnie blameer Zuma vir aanklagte teen Malema
2011-10-27 09:06
Johannesburg – Winnie Madikizela-Mandela blameer pres. Jacob Zuma vir die dissiplinêre aanklagte teen Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, berig The Star.
Madikizela-Mandela het Woensdag gesê Zuma het die besluit geneem om Malema aan te kla.
Sy was die laaste getuie wat in Malema se guns getuig het.
Nie Zuma of Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, is deur die vervolgingspan as klaers gelys nie. Mantashe het teen Malema getuig, terwtl Lindiwe Zulu deur Zuma aangestel is om namens hom te getuig.
Malema en sy adjunk, Floyd Shivambu, word daarvan beskuldig dat hulle die ANC se naam deur die modder gesleep het toe hulle onlangs gedreig het om die regering van Botswana omver te werp.
Die ander leiers wat aangekla word sluit in Sindiso Magaqa, sekretaris-generaal; Ronald Lamola, adjunkpresident; Pule Mabe, tesourier; en Kenetswe Mosenogi, adjunk-sekretaris-generaal.
Madikizela-Mandela se rol was om die posisie van die jeug, wat na die 1950's terugdateer, te verduidelik.
Slotbetoë sal op 3 November geskied.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA