Winde wakker Jhb-vlamme aan
2011-08-23 23:12
Johannesburg – Verskeie gebiede in Johannesburg was Dinsdagaand onder ‘n rookwolk terwyl sterk winde veldbrande aangewakker het, het die stad se nooddienste gesê.
Die brande het omstreeks 16:00 ontstaan, maar die oorsaak daarvan is onbekend, het Nana Radebe, woordvoerder, gesê.
Lenasia, North Riding, Roodepoort, Midrand en Fourways tel onder die gebiede wat geraak is.
“Ons raai inwoners aan om nie oop vure te maak of brandende sigaretstompies weg te gooi nie, aangesien dit die oorsaak van die brande kan wees.”
Die meeste van die brande is reeds geblus. Geen beserings is aangemeld nie.
Die SABC het berig dat gedeeltes van Pretoria ook deur rook omhul was.
Jeffrey Wicks, woordvoerder van Netcare 911, het gesê hul inbelsentrum was “oorstroom” deur oproepe van mense wat brande in Midrand en aan die Wesrand gerapporteer het.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA