Wimpy-man het 'gevlug van alles'
2011-10-21 07:08
Bloemfontein – “Ek het net gecrack.”
Só het Steven Williamson (30) Donderdagmiddag gesê nadat hy sonder ’n woord Bloemfontein verlaat en nou, byna twee weke later, na die stad teruggekeer het.
Duisende mense was op die uitkyk vir die vermiste bestuurder van die Wimpy-restaurant op Prellerplein in Bloemfontein, en talle het vir sy veilige terugkoms gebid.
Leon Rossouw, bekende private speurder van die stad, het Williamson in ’n kampeerterrein by die Midmardam in KwaZulu-Natal opgespoor waar hy, glo salig onbewus van al die drama, rustig in ’n tent by die water gekampeer het.
Hy was die meeste van die tyd net hier en het selfs nuwe vriende gemaak met konstruksiewerkers in die omgewing.
Williamson sê hy het breekpunt bereik in sy lewe en het gevlug.
“By die werk, by die huis... alles het net vir my te veel geraak. Dit het net opgehoop. As ek gebly het, weet ek nie. Ek het in my kar geklim en net gery. Ek is Johannesburg om Natal toe. Ek moes my kop skoon kry.”
Hy sê hy het vir niemand gesê hy gaan weg nie en sou Maandag teruggekeer het. Die tent het hy op pad gekoop.
“Ek voel baie sleg oor alles. Ek het nie geweet dinge gaan so erg word nie. Ek het geweet my vrou gaan ontsteld wees, maar nie só nie. Dinge het vir my net te veel geraak.”
Rossouw, wat as selfoonspeurder met die soektog gehelp het, sê hy het baie goeie inligting van die gemeenskap en van mense buite die provinsie gekry.
Rossouw het Donderdag omstreeks 03:00 Williamson in sy tent in ’n kampterrein by die Midmardam gaan wakker maak.
“Ek het net gesê: ‘Kom Steven, ons gaan nou huis toe,’ en Steven het sy tent en goed opgepak.”
Inligting het daarop gedui dat Williamson eers op die N1 na Johannesburg gery het en toe op die N3 in die rigting van KwaZulu-Natal na Howick.
“Ons het e-posse na sowat 1 750 gastehuise versprei totdat ons uiteindelik gehoor het sy voertuig (’n wit Toyota Yaris) is by die Midmardam gesien.”
Rossouw sê hy sou dit nie sonder die gemeenskap se hulp kon doen nie. “Die grootste beloning wat ’n mens kan kry, is om iemand lewend terug te kry. Ek is bly Steven is veilig en weer met sy vrou herenig.”
Williamson se vrou, Béola, was siek van bekommernis.
Die verligting en blydskap was sigbaar op haar gesig toe sy en haar man mekaar weer omhels.
“Dankie hemel tog hy is veilig! Ek wens dit wat ek moes deurgaan nie eens my grootste vyand toe nie.”
Sy het ’n beroep op almal gedoen om haar en haar man tyd te gee om tot besinning te kom oor wat gebeur het.
“Ek weet wat hy gedoen het, was irrasioneel. Hy het sy redes gehad. Ons gaan saam iemand na aan die familie spreek om ons te help om hierdeur te werk. Ek is net bly hy is veilig.”
Volksblad het vroeër berig Williamson het verdwyn nadat hy aan ’n gholfdag van Kansa in die Tempe-weermagbasis deelgeneem het. Hy is die oggend van Saterdag 8 Oktober die laaste keer in die stad gesien brandstof ingooi nadat hy die vorige nag by verskeie kuierplekke was.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad