Wildtuin soek weermag se hulp
2009-10-23 12:20
Johannesburg – Die Kruger Nasionale Park (KNP) wil nou die hulp van die weermag inroep om wildstropery in die park te bekamp.
Dít kom nadat reeds sowat 94 renosters die afgelope jaar regoor Suid-Afrika uitgewis is.
“Ons is ‘n bewaringsorganisasie en die publiek betaal ‘n hoë prys vir hierdie sinnelose uitwissing van diere, terwyl wildstropers onskuldige persone by hulle dade betrek,” het David Mabunda, uitvoerende hoof van die KNP, Vrydag gesê.
“Besprekings met die weermag is reeds op ‘n gevorderde fase en ons hoop om binnekort weer patrollies deur weermaglede in die park te hê.”
Sowat 57 veldwagters is Vrydag in Skukuza amptelik aangestel om saam met verskeie ander owerhede te werk om wildstropery stop te sit.
“Sedert die begin van die jaar het die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANparke) reeds 22 stropers regoor die land vasgetrek,” het Mabunda gesê.
Hy het ook bekendgemaak dat SANparke reeds sowat R5.2 miljoen besteë het om die probleem op te los.
–Sapa