Wilde skietery toe polisie motordiewe probeer vastrek
2012-01-03 17:03
Johannesburg – Die polisie is op soek na drie mans ná hulle Dinsdag in Woodmead, in die noorde van Johannesburg, 'n splinternuwe Nissan-voertuig gesteel het tydens 'n skietgeveg met die polisie.
"Twee polisiebamptes... wat te voet vir die feesseisoen gepatrolleer het, is deur 'n werknemer van Nissan genader," het kapt. Kim Cloete gesê.
Die werknemer het die polisie in kennis gestel dat drie mans besig was om 'n voertuig by 'n nabygeleë motorhandelaar in Woodmead se perseel te steel. Toe die twee beamptes die mans nader, het hulle op die polisie losgebrand.
Die mans het tydens die skietery die Nissan oopgebreek en daarin gevlug terwyl hulle steeds op die polisie geskiet het. Niemand is in die voorval beseer nie.
Cloete het gesê die polisie ondersoek die saak, en soek tans na die gesteelde voertuig.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA