Wildbewaarders skiet 2 stropers dood
2012-01-12 10:51
Johannesburg – Wildbewaarders het twee vermeende stropers in die Krugerwildtuin doodgeskiet, het ‘n beampte Donderdag gesê.
“Tydens die konfrontasie, wat in die nag gebeur het, is twee vermeende stropers van Mosambiek dodelik gewond,” het Reynold Thakhuli, ‘n woordvoerder vir Suid-Afrikaanse nasionale parke, in ‘n verklaring gesê.
Die wildbewaarders was Woensdagaand besig om ‘n sending teen stropery uit te voer nadat agt onthoringde renosterkarkasse Dinsdag gevind is.
“Veldbewaarders het in kontak met ‘n groep vermeende stropers gekom. Sanparke het gesê dat ‘n skietery tussen die bewaarders en stropers uitgebreek het,” het Thakhuli gesê.
Hy sê ‘n .375 geweer en ander jaggereedskap is gevind.
Thakhuli sê ‘n soektog word vanuit die lug gedoen om vas te stel of nog renosters gestroop is.
Sowat 443 renosters is verlede jaar vir hul horings doodgemaak. In 2010 is 333 van dié diere dood.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA