Wiid waarsku vroue
2009-08-09 12:46
Pretoria - Gretha Wiid, die sogenaamde “vroue-Angus”, het gister gewaarsku teen wellus en die gebruik van “simpel seksspeelgoed” op haar eerste Worthy Women-saamtrek.
Ongeveer 7 000 begeesterde vroue het die omstrede Wiid telkens toegejuig en hul hande omhoog gegooi in aanbidding in tonele wat herinner het aan die evangelis Angus Buchan se Mighty Men-saamtrekke.
“My sussie, jy moet jou tieties begin toemaak,” het Wiid op die saamtrek in die NG kerk Moreletapark se Woodlands-ouditorium gesê.
Volgens haar sien sy en haar “koning” – haar man, Francois – in hul bediening al hoe meer vroue wat met wellus worstel.
“God het ’n grens” en vroue moet daarvolgens leef.
Aan vroue wat met mans saamwoon, het sy gesê: “My wraggies, trou!”
Volgens haar leef sulke vroue nie net buite God se wil nie, hulle is besig om hul eie grootste droom te vertrap. “Hy (die man) het nodig om jou te kom haal en vir jou te veg.”
Sy meen dit sal ’n goeie ding wees as 200 000 vroue ’n naweek lank op ’n plaas gaan rondloop in net hul swemklere, sonder grimering of haarkapsels wat netjies gedoen is. Die vroue sal dan besef dat hulle almal dieselfde is: “Party verbloem dit net beter,” het Wiid gesê.
“Ons moet ophou kerk-kerk speel. Ons kan nie meer wag vir Sondag om te hoor wat sê God nie, ons moet self hoor wat God sê.”
Volgens haar leef die mensdom in ’n tyd waarin God die liggaam van Christus wil laat herleef.
“Ons is deel van dieselfde liggaam, of ons nou hande klap of hoede dra – daar gaan nie eendag ’n NG hele, ’n Dopper-hemel of ’n AGS-hemel wees nie.”
Die gehoor het van tienermeisies tot bejaarde vroue en selfs lede van ’n Christen-motorfietsklub ingesluit. Die enigste mans wat teenwoordig was, was agter die verhoog doenig.
Talle vroue in die gehoor met wie Rapport gepraat het, het gesê hulle het al voorheen praatjies deur Wiid oor die huwelik of oor tieners bygewoon.
Ander het weer gesê hulle het na die Worthy Women-saamtrek gekom omdat hul mans Buchan se Mighty Men-saamtrekke bygewoon het.
Me. Gisela Gouws (38) van Pretoria het gesê haar gewete het haar danksy Wiid se woorde aangespreek om minder te luister na wat mense sê en meer na die Bybel te kyk.
Me Chantel Struwig (26), ook van Pretoria, dink Wiid is awesome.
“Ek is mal daaroor dat sy heeltyd uit die Woord aanhaal. Sy is relevant; sy probeer nie om super-geestelik te wees nie... sy praat op ’n gewone vlak.”
Die NG Kerk en Hervormde Kerk het verlede week gesê hulle deel nie Wiid se standpunt dat die vrou in die huwelik ondergeskik is aan die man nie.
- Rapport
Vir meer hieroor, besoek Rapport.