'Wie finansier Julius?' – DA
2011-07-18 08:43
Kaapstad - Die DA wil weet waar die ANC-jeugleier, Julius Malema, sy geld kry.
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gaan vandag gevra word om ondersoek in te stel na Malema se geldsake ná berigte dat hy ’n paleis van sowat R16 miljoen bou.
Die DA se woordvoerder oor polisie, Dianne Kohler Barnard, meen die SAID moet ’n volledige forensiese oudit doen.
“Hoe kan iemand met ’n verdienste van R25 000 per maand as leier van die ANC-jeugliga ’n huis van R16 miljoen bekostig?
“Sy salaris is waarskynlik nie genoeg om só ’n groot lening by ’n bank te kry nie. Die ander alternatief is dat hy dit van ’n private individu ontvang het. Wie finansier Julius Malema?”
Die SAID se woordvoerder, Adrian Lackay, het Sondag gesê die inkomstediens sal enige voorlegging wat deur die LP gemaak word, oorweeg.
Dit kom ’n week ná berigte dat Malema R78 000 kontant betaal het vir drie nagte se verblyf saam met vriende in ’n luukse oord naby die Krugerwildtuin.
Die groep het kort voor sy herverkiesing as leier van die jeugliga in Junie in die “koloniale” Royal Malewane-herberg gekuier.
Malema het in sy verkiesingsveldtog herhaaldelik homself as ’n beskermer en spreekbuis vir die armes voorgehou.
Hy was ook onlangs vir ’n vakansie in Italië – in dieselfde tyd toe ’n groot groep van die Limpopo-regering dié land besoek het om sakebetrekkinge te bevorder.
Malema se woordvoerder, Floyd Shivambu, het nie Sondag op navrae gereageer nie.
Die Sunday Independent het Sondag berig Malema se nuwe huis sal op dieselfde perseel gebou word as die huis van R3,6 miljoen wat hy twee jaar gelede in die Sandown-woonbuurt gekoop en reeds platgeslaan het om plek te maak vir die nuwe veelverdiepinghuis wat glo “uiters modern” sal wees met ’n swembad en ’n ondergrondse veiligheidskamer “ingeval hy aangeval word”.
- Volksblad