Wetgewing kom vir gelyke indiensmening
2010-02-17 05:51
Pretoria - Wetgewing sal hierdie jaar in werking tree om te verseker dat Suid-Afrikaanse maatskappye met die land se beleid op gelyke indiensneming ooreenstem.
"(Die wetgewing) gaan op die oomblik deur 'n parlementêre proses, maar hierdie jaar gaan dit gebeur," het Jimmy Manyi, direkteur-generaal van die departement van arbeid, Dinsdag ná 'n openbare lesing by die Tshwane Universiteit van Tegnologie gesê.
Manyi is ook die voorsitter van die Black Management Forum.
Volgens Manyi sal maatskappy wat nie aan die beleid gehoor gee nie "swaar beboet" word.
"Gelyke indiensneming is die vinnigste manier om te verseker dat sosiale regverdigheid geskied," het hy gesê.
"Ons kan dit slegs bewerkstellig as alle Suid-Afrikaners tuis voel. Afrikane voel nie so nie."
Manyi het ook gesê dit gaan "heel goed" met witmense in die werkplek.
Volgens die direkteur-generaal is dit onwaar dat daar geen toekoms vir blankes in die ekonomie is nie.
"Hulle trek steeds voordeel," het hy gesê.
- Sapa