Wet op inligting vertraag
2011-09-19 07:00
Jan-Jan Joubert en Philda Essop
Kaapstad – Die ANC sal na verwagting Maandagmiddag aankondig dat die gewraakte wysigingswetsontwerp op die beskerming van inligting, wat mediavryheid erg bedreig, nie meer Dinsdag voor die Nasionale Vergadering sal dien nie.
Die wetsontwerp bepaal onder meer dat inligting wat die staat as geheim klassifiseer, nie gepubliseer mag word nie en dadelik aan die polisie gegee moet word.
In mediakringe word sterk aangevoer dit maak toesmeerdery van korrupsie en wanbestuur maklik vir die intelligensiedienste, veral omdat publikasie van geheime inligting swaar tronkstraf tot gevolg sal hê sonder dat die hof in ag sou kon neem of die publikasie van die inligting in die openbare belang is.
Na wat betroubaar verneem word, het die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) op sy vergadering die afgelope naweek besluit dat die wetgewing nie meer môre voor die Nasionale Vergadering sal dien nie.
Die amptelike rede wat gegee sal word, is na verwagting dat die ANC nie genoegsame kans gegun is om intern oor die inhoud van die wetsontwerp te debatteer nie. Die ANC sal dus nou die inhoud van die wetsontwerp aan ’n proses van interne ANC-debat onderwerp.
Dit kan moontlik gesprekke met alliansievennote van die ANC insluit. Een van die alliansievennote, die vakbond Cosatu, is baie sterk teen die wetgewing gekant weens die implikasies vir onder meer die oopvlek van korrupsie en selfverryking van magtige persone.
Die wetgewing is dus nie teruggetrek nie, maar word met ’n sterk moontlikheid van veranderings vertraag. Die aankondiging van die vertraging sal na verwagting vanmiddag op ’n nuuskonferensie by die parlement gedoen word nadat die ANC-koukus oor die verwikkelinge ingelig is.
Na verneem word, is daar op die NUK-vergadering skerp kritiek gelewer op die hantering van die parlementêre proses.
Die twee LP’s wat die ANC se openbare gesig was met die proses, Cecil Burgess en Luwellyn Landers, het deurgeloop onder bewerings dat hulle aangesê is om sekere veranderings (wat nie aan Volksblad gespesifiseer is nie) aan die wetgewing aan te bring, maar dit nie gedoen het nie.
In baie kringe word egter gevoel die twee word tot sondebok gemaak vir ’n omstrede stuk wetgewing waarvoor hul mandaat dikwels verander het.
In ANC-kringe word gesê dit is nie duidelik hoe lank die interne konsultasieproses sal duur nie, maar dat dit so kort as twee weke kan wees. Die gesprekke sal buite die openbare oog plaasvind.
Die verwagting is dat die insluit van ’n bepaling dat die publikasie van inligting wat verkeerdelik geheim verklaar is, gekondoneer of ligter gestraf kan word indien die hof bevind die inligting is in die openbare belang, wel deel van die besprekings sal uitmaak, hoewel daar verdeeldheid in die ANC is oor die kwessie en dit nog te vroeg is om die afloop van die debat te voorspel.
Saterdag het die kritiek van meer as 400 uiteenlopende openbare instellings, burgerregte-instellings en politieke partye op ’n groot optog in Kaapstad uitgeloop.
Mediamaatskappye het ook reeds die versekering gegee dat hulle die wetsontwerp as grof ongrondwetlik beskou en dit tot in die hoogste hof sal beveg as die inhoud nie aangepas word nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad