Wet op inligting in soeklig by seminaar
2012-01-31 09:00
Kaapstad – Bang joernaliste is swak joernaliste.
En met swak joernaliste kry jy ’n swak demokrasie, het regter Goran Lambertz van die Sweedse hooggeregshof Maandag op ’n seminaar oor die Wetsontwerp op Inligting gesê.
Die seminaar, met die tema “Staatsgeheime versus menseregte”, is deur die Instituut vir Sekerheidstudies in Woodstock aangebied.
Swede is bekend vir sy beleid van deursigtigheid in die openbare sektor en toegang tot inligting.
Lambertz het gesê die debat in Suid-Afrika oor die wetsontwerp word met belangstelling in Europa, maar veral in Swede, gevolg. Die algemene gevoel in Swede oor die wetsontwerp is een van kommer.
Volgens hom moet die vraag gestel word waarom spraakvryheid belangrik is.
“Spraakvryheid is belangrik, maar so ook die gevoel van vryheid. Dit gaan oor die noodsaaklikheid van ’n demokrasie om sy politieke en openbare mag genoegsaam deur ’n vrye media te laat ondersoek. Daar moet iemand wees wat moontlike korrupsie en ongerymhede met openbare kwessies blootlê.”
Volgens hom beteken ’n demokrasie nie bloot dat almal stemreg het nie. “Dit gaan daaroor dat die kiesers inligting het oor wat aangaan, daarom moet die media vry wees om te publiseer en nie ontmoedig word deur dreigemente van strawwe as hulle te veel publiseer of in besit is van inligting wat hulle nie behoort te hê nie.”
Lambertz het egter daarop gewys dat mediavryheid nie onbeperk kan wees nie. “Daar is belangrike inligting wat beskerm moet word.”
Ofskoon die wetsontwerp goed geskryf is, pla sekere kwessies hom:
Joernaliste en fluitjieblasers kan gestraf word vir goed wat nie die straf regverdig nie;
Sekere bepalings word nie duidelik gedefinieer nie;
Die wetsontwerp bevat geen vrywaring vir die media nie, en
Die voorgestelde strawwe is baie swaar.
Mukelani Dimba, adjunk- uitvoerende direkteur van die Open Democracy Advice Centre, het gesê sommige fluitjieblasers is reeds versigtiger om inligting aan joernaliste te gee – selfs voordat die wetsontwerp in die wetboeke vervat is.
Nkwame Cedile van die Right2Know-veldtog het oor berigte dat daar op dié organisasie gespioeneer word, gesê hulle het niks om weg te steek nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger