Wet op inligting 'benadeel armes'
2011-11-24 09:02
Johannesburg – Enigiets wat korrupsie probeer wegsteek, sal ’n regstreekse effek op die armes hê.
Só het Dario Milo van Webber Wentzel Prokureurs, een van Suid-Afrika se voorste mediaregkenners, en ander kenners Woensdag gesê.
As die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting wat Dinsdag in die parlement aanvaar is deur pres. Jacob Zuma onderteken word, sal staatsinligting gegroepeer word volgens geklassifiseerde, geheime en hoogs geheime inligting.
As geklassifiseerde inligting ook inligting oor korrupsie of ander wanoptrede bevat, kan ’n strafregtelike klag ingedien word teen die persoon wat dit geklassifiseer het en kan aansoek gedoen word dat dit geherklassifiseer word.
Armes geraak
Luidens die wetsontwerp is veiligheidsdienste wat onder die minister van staatsveiligheid val verantwoordelik vir die klassifisering. Volgens Milo kan iemand wat geklassifiseerde inligting publiseer, hetsy dit inligting oor korrupsie bevat of nie, tronkstraf opgelê word.
Volgens Murray Hunter, nasionale koördineerder van die organisasie Right2Know, strek die wetsontwerp baie verder as net die inperking van persvryheid. Hulle kyk nou presies hoe die publiek geraak word.
“Waar daar ’n oormaat geheimhouding is, lei dit tot korrupsie, probleme met dienslewering en ondoeltreffendheid,” het hy gesê.
Volgens Hunter lei die wetsontwerp daartoe dat die publiek uitgesluit word van inligting oor die werking van die departemente van veiligheid, van verdediging en van polisie.
Prof. Steven Friedman, politieke kenner en direkteur van die Sentrum vir die Studie van Demokrasie, reken gewone burgers, veral die armes, gaan deur die wet geraak word omdat hulle nie geld het om ’n prokureur se dienste te bekom wanneer hulle inligting geweier word wat hulle regstreeks raak nie.
Inligting 'geklassifiseer'
“As iemand wat in ’n opslaanhuisie woon wil weet wat van die geld vir hul regeringsbehuisingsprojek geword het, kan die persoon by die regeringskantoor net vir hom sê die inligting is geklassifiseer, al is dit dalk nie,” verduidelik Friedman.
“ ’n Arm mens gaan nie toegang tot ’n prokureur hê as iemand inligting van hom weerhou nie.”
Die Afrika-direkteur van Human Rights Watch, Daniel Bekele, het gesê die openbare belang moes voorkeur gekry het in enige besluit wat te doen het met staatsinligting.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger