Wet oor verblyfreg ‘gaan tot konflik lei’
2011-03-12 07:22
Die konsepwet op verblyfreg gaan beslis nié harmonie tussen eienaars en plaasbewoners op plase bevorder nie, maar kan eerder tot konflik lei, is Vrystaat Landbou (VL) se boodskap aan die regering.
VL sê die rede is dat die plaasbewoner en eienaar nou mededingende en soms botsende belange gaan hê op dieselfde stuk grond. “Onbeperkte regte” word nou gegee aan onwettige plaasbewoners.
VL het gister met die departement van landelike ontwikkeling en grondsake in die Vrystaat oor die omstrede wet vergader.
Mnr. Dirk van Rensburg, voorsitter van VL se grondsake-komitee, het daarop gewys dat hoewel VL op 12 Februarie 2011 sy voorlegging ingedien het met grondsake se inligtingsdag oor die wet, VL eers nou die kans gekry het om volledig kommentaar te lewer.
VL ondersteun die gedagte dat kommersiële landbou meer toe-gangklik gemaak moet word vir voorheen benadeelde gemeenskappe, maar “definitief nie deur bestaande plase met eienaars te gebruik om die doel te bereik nie”, lui sy voorlegging.
“Dit sal lei tot onbeheerde landbouaktiwiteite op plase.
“Die huidige konsepwet stel ’n ongekontroleerde beheer voor rakende kommersiële landbougrond (plase) en dit kan nadelige gevolge vir die eienaar en kommersiële landbou daarstel.”
VL het ook ernstige besware teen die lang, burokratiese en duur uitsettingsprosedure in die voorgestelde wetgewing. Dit maak dit eintlik onmoontlik vir grondeienaars om plaasbewoners uit te sit – selfs al is die uitsetting wettig.
Die konsepwet sal ook nie beter voedselsekuriteit en werkgeleenthede vestig nie, maar eerder die teenoorgestelde uitwerking hê.
VL ondersteun die doelstellings binne die konsepwet, veral die gedeelte oor ’n mediasiegeskil-meganisme om dispute te hanteer voordat dit na die howe verwys word.
Oorsigtelik sê VL daar is bepaalde gebreke in die konsepwet:
* Verblyfregte word nie net meer gevestig in die plaaswerker en sy familie nie, maar in alle plaasbewoners.
* Verblyfregte en eienaarsregte stuur op ’n direkte konflik af.
“Klousule 13(1(a) voorsien dat ’n grondeienaar enige van sy regte mag uitoefen in terme van die Grondwet en ander wette, insluitend die reg op eiendom. Hierdie regte sluit in die eienaar se gemene reg tot die eksklusiewe gebruikgenot van sy plaas soos na sy goeddunke. Hierdie reg is onversoenbaar met die plaasbewoner se eiendomsregte in verhouding tot die dieselfde grond (plaas).”
Volgens VL word verblyfregte toegeken aan onwettige plaasbewoners. Dié regte is onbeperk en skend die Grondwet.
“Die regte gegee aan plaasbewoners skend die Grondwet – hulle konstitueer waarskynlik onteiening in dat hulle regte wegneem van die eienaar en dit aan plaasbewoners gee,” het Van Rensburg gesê.
- Volksblad